Slenggebruikwoordelysprojek

'n Navorsingsprojek oor die slenggebruik in Bellvillese hoërskole.

Navorser/opsteller: Samuel Murray
Vir: Mnr (JJN) Paul Kruger

Hierdie navorsingsprojek is ter vervulling van deel van die slaagvereistes van die vak Taal- en Vertaalpraktyk in die kursus Nasionale Diploma: Taalpraktyk, aandie Kaapse Technikon, Zonnebloem, Kaapstad.

1995-09-19

Die inhoud van hierdie skrif is my eie opinie en nie noodwendig dié van die Kaapse Technikon nie. Hierdie skrif is ook nie tevore vir enige ander akademiese kwalifikasie-eksaminering ingedien nie.

Geteken __________________________


1. OPSOMMING

'n Woordelys van slengwoorde wat tans in Bellvillese hoërskole gebruik word, is opgestel deur gebruik te maak van vraelyste wat onder skoliere versprei is. Die vraelys is so opgestel dat afleidings t.o.v. gebruiksfrekwensieverskille (bv. geslag en standerd) gemaak kon word. Skoliere van veral drie skole het aktief hieraan deelgeneem, en twee van hierdie skole se woordgebruik stem sodanig ooreen dat dit in 'n enkele lys vervat kan word. Die derde skool verskil demografies baie van ander twee, en hoewel die data daar versamel waardevol is vir sosiologiese en linguistiese studies (veral op die gebied van pragmatiek en metaforiek), is daar besluit om nie daardie skool se woorde in die lys op te neem nie.

sleutelwoorde: woordelys, sleng, vraelys, skolier

1.1 ABSTRACT

A "terminology" list of slang words currently used in Bellville high schools were compiled using questionnaires distributed among pupils. The questionnaire was designed to make possible conclusions as to usage frequency differences (eg. sex and standard). Pupils from three schools actively took part in the venture, and words found in two of these were so similar that they are compiled as a single list. The third school demographically differed from the other two, and though the data collected there will be valuable for sociological and linguistic studies (especially in die areas of pragmatics and metaphorics), it was decided not to include words from that school in the final list.

key words: terminology list, slang, questionnaire, pupil

2. DOEL

Die primêre doel van die studie was om 'n woordelys van die slenggebruik in Bellvillese hoërskole op te stel. Die lys sou oorspronklik net in Afrikaans verskyn, maar een Engelse hoërskool is ook genader, met die oog op 'n moontlike vergelykende studie.

Die studie sou ook kon dien as 'n loodsstudie vir verdere navorsing, veral om kategorieë te bepaal vir gebruiksfrekwensie van woorde vir sekere konsepte.

3. WERKSWYSE

Daar is veral drie metodes om woorde vir 'n slengwoordelys op te spoor. Een metode is om skoolkoerante te fynkam vir informele teks, 'n ander om onderhoude met skoliere te voer, en 'n derde om 'n vraelys onder skoliere te versprei. Die derde metode is in hierdie geval as mees geskik beskou, veral omdat 'n groot volume werk so vinnig en akkuraat afgehandel kon word.

'n Honderd vraelyste is onder skoliere van drie skole versprei, dus in totaal 300 vraelyste. Die vraelys (sien aanhangsel A) vra om inligting oor die skool, standerd, geslag, kerkverband en -gemeente, en betrokkenheid by sport- en kultuuraktiwiteite van die skolier. Hierdie inligting is gevra in 'n poging om moontlike subkulture en kliekgroeperings te identifiseer. Dan moes die skolier soveel slengwoorde en -uitdrukkings as wat hy ken en/of gebruik, met hul betekenisse indien dit bekend is, daarby skryf. Geen formele betekeniskategorieë is aangedui nie, maar skoliere is gevra om aan te dui wanneer hulle van mening is dat 'n woord kru- of taboetaal (of vloek) is, en wanneer 'n woord egafrikaanse sleng is.

Indien data in 'n databasis geplaas sou word kon vergelykings vergemaklik word, maar aangesien die beskikbare databasisprogram egter ontoereikend was, is vraelyste toe vooraf volgens skool, standerd en geslag gesorteer en in daardie kategorieë bloot op woordverwerkingsprogram geplaas.

Indien daar te veel woorde sou wees, sou 'n seleksie m.b.t. gebruiksfrekwensie gemaak word.

4. RESULTATE

Ongeveer 250 vraelyste is terugontvang. Twee skole se woorde het veral ooreengestem, maar 'n derde se woorde het aansienlik van die eerste twee verskil. Na verwerking is toe besluit om net die eerste twee skole se woorde in die lys op te neem. Die een skool is hoofsaaklik Engelssprekend, en die ander skool hoofsaaklik Afrikaanssprekend.

Engelssprekende skoliere het gemiddeld 18 woorde per persoon neergeskryf, en Afrikaanssprekende skoliere gemiddeld 9 woorde per persoon.

4.1 WOORDELYS

Hierby aangeheg is 'n kopie van die finale woordelys. Die hantering van inligting in die woordelys (bv. lemma-indeling) word in die voorwoord van die lys verduidelik.

Vier-en-sewentig woorde is by skoliere van albei skole opgemerk. In die onderstaande lys is woorde se betekenisse buite rekening gelaat. Woorde in hierdie lys kom dus in albei skole voor, maar mag in betekenis verskil.

asshole
awê
babe
bakgat
bank
befok
bevange
bitch
blêrrie
bliksem
blowjob
bodacious
bone, bonehead
check
chick
chill
chuck
cool
corky
cunt
dig
dof
donder
duh
dork
dude
dweeb
eier
entjie
flippen
floris, flossie
fok, vok
fully
funky
gehard
groovy
gross
gwar, gwara
haai
is
jig, jiggies
jits
jol
kak
kief
kom, cum
kwaai
lekker
moer
mother
muf, muff
my bra, my bru
naai, nay
nag
nerd
pel, pellie
pis, pissed
rad
rave
rou
ru, rov
salute
shit
sif
skerp
spiff
stuff
suck, sux
tatie
tjommie
vertraag
wasted
zits

4.2 TOP TIEN IN ELKE SKOOL

Nie alle woorde is ewe veel gebruik nie. Die woorde wat die meeste in die onderskeie skole opgemerk is, word hier gelys.

Skool A

1. cool
2. kief
3. chill
4. spiff
5,6. sux, bevange
7. tos
8. babe
9. nice
10. okay
Skool B

1. ahwe
2. dala
3. jars/jas
4. jol
5. kief/kiff
6,7. jits, mal
8,9. cool, speen
10. smaak

4.3 SOSIOLOGIESE AFLEIDINGS

Hoewel inligting die statisties ontleed is nie, is geen definitiewe verskille in die slenggebruik van verskillende geslagsgroepe of verskillende standerdgroepe gevind nie, behalwe dat die Engelse skool ongeveer dubbeld soveel woorde per skolier bygedra het as die Afrikaanse skool. Minder akkurate afleidinkies kan egter wel gemaak word aangaande gebruiksgroeperinge, en dié word hier uiteengesit. Verwys asseblief na die woordelys vir spesifieke woordbetekenisse.

Skool A

spif : baie meer in standerd 7 gebruik
bevange : amper net in standerd 7 vroulik gebruik
tos : afwesig by standerd 9 vroulik
nice : net deur vroulikes, veral standerd 7
okay : nie in standerd 9 manlik nie

asshole, asswipe : net in standerd 7
dork : nie in standerd 9 vroulik nie
etter : net in standerd 7 manlik en standerd 9 vroulik
kwaai : net in standerd 7 manlik
minder : net in standerd 7 manlik
moer, moerse : net in standerd 7
munchies : net in standerd 7 vroulik en standerd 9 manlik
rou : net in standerd 7
duh : net in standerd 7 manlik (veral) en standerd 9 vroulik
sux : nie in standerd 9 manlik nie
tjommie : net in standerd 7 manlik
wasted : net in standerd 7 vroulik en standerd 9 manlik
zits : net deur vroulikes
yo : net in standerd 7 vroulik en 9 manlik
bull : baie minder by manlikes
chow : net in standerd 7 vroulik en standerd 9 manlik
common : meer deur vroulikes
cunt : net in standerd 7
dude : net in standerd 7 vroulik
faggot : net in standerd 7
gross : net deur vroulikes
nip : net in standerd 7 vroulik
jol : net deur vroulikes

Vir sarkasme gebruik standerd 7 vroulik "not" en standerd 7 manlik "duh", en standerd 7 vroulik het die grootste verskeidenheid terme vir sigarette, drank en seks.

Skool B

ahwê : meer in standerd 7 vroulik, baie min in standerd 9 manlik
dala : in standerd 9 vroulik beteken dit ook rook en drink
jol : nie in standerd 9 manlik
jits : nie in standerd 9 manlik

bedruk : nie in standerd 9 manlik
bots : nie in standerd 7 vroulik
bymekaar raak : baie min in standerd 9
entjie : baie meer in standerd 7
kap : in standerd 7 beteken dit "sex"
kap 'n baat : in standerd 9 beteken dit "eet"
bevange : nie in standerd 7 vroulik nie
bitch : net in standerd 9
brasse : net in standerd 9 vroulik
chill : meer in standerd 9 vroulik
dyte : net in standerd 9 vroulik
flossie : net in standerd 9
gam : amper net in standerd 9
gooi : net in standerd 9 vroulik
grak & grot : net in standerd 9
mamock : net in standerd 9
tief : net deur vroulikes
tiep : net in standerd 9
toet : net in standerd 9
wys : net in standerd 9
tong in die long : net in standerd 9
tohpie en tahnie : net in standerd 7 vroulik
salute : net deur vroulikes

Standerd 9 manlik het net woorde vir die vroulike geslagsorgaan, maar standerd 9 vroulik het woorde vir beide die manlike en vroulike geslagsorgaan. Manlikes het net beskrywende woorde vir vroue, maar vroue het beskrywende woorde vir beide mans en vroue.

5. GEVOLGTREKKINGS EN AANBEVELINGS

Die studie was in die eerste plaas bedoel om slegs 'n lys woorde te verkry. Hierin was die projek geslaagd.

Vanuit die sosiologiese afleidinkies kan geen duidelike gevolgtrekkings t.o.v. gebruik gemaak word nie. In skool A is dit wel interessant dat woorde telkens in standerd 7 manlik en standerd 9 vroulik, of standerd 7 vroulik en standerd 9 manlik eksklusief gebruik word. In skool A word baie woorde net in standerd 7 gebruik, en in skool B word baie woorde net in standerd 9 gebruik.

Wat aanduiding van kru- of taboetaal betref, is dit duidelik dat verskillende skoliere verskillende gesindhede teenoor en definisiebegrippe van sleng en kru- of taboetaal het.

Die begrip "sleng" verskil tussen skoliere van Engelse en Afrikaanse skole. Afrikaanse skoliere is geneig om Engelse woorde in Afrikaans as "bloot slordige taalgebruik, maar tog nie sleng nie" te klassifiseer, terwyl Engelse skoliere Afrikaanse woorde in Engels as "sleng" beskou. Dit is dus te verstane dat Engelse skoliere soveel meer woorde neergeskryf het.

6. BEDANKINGS

Graag wil ek almal bedank wat my met hierdie projek gehelp het. Hieronder tel die sowat 300 skoliere van drie Bellvillese hoërskole, die hoofde van die Afrikaansdepartemente van daardie drie hoërskole, en die skoolhoofde van vier Bellvillese hoërskole. Dankie ook aan my hoofvaklektor, mnr Paul Kruger vir die inspirasie en opdrag, en me R Rowe vir die gebruik van rekenaarfasiliteite. Die hele projek is gedoen met WordPerfect 5.1.


AANHANGSEL A: 'n KOPIE VAN DIE VRAELYS

Vraelys- verwysingsnommer _________________

Vraelys vir leerling-/studente-sleurtaalgebruikopname

Aan die leerling/student:

A. Vul asseblief die onderstaande inligting omtrent jouself in. Jy hoef glad nie jou naam hierby te skryf nie - die vraelys is anoniem.

1. Standerd _________________
2. Skoolnaam _________________
3. Kerk en -gemeente (opsioneel) _________________
4. Manlik of vroulik _________________
5. Huistaal _________________
6. Sou jy jouself beskou as baie betrokke by jou skool se sportbedrywighede (Ja of Nee)? _________________
7. Sou jy jouself beskou as baie betrokke by jou skool se kulturele bedrywighede (Ja of Nee)? _________________

B. Skryf asseblief hieronder al die sleurtaal- ("sleng") woorde en -uitdrukkings wat jy algemeen ken en/of gebruik, en wat dit beteken (as jy weet). Aangesien die vraelys anoniem is, hoef jy nie bang of skaam te wees nie. As jy dink 'n woord wat jy neerskryf is egafrikaanse sleurtaal, skryf asseblief (AFR) in hakies daarlangs, en as jy dink die woord is krutaal of taboetaal (of vloek), skryf asseblief (KRU) in hakies daarlangs. Probeer egter om allerhande soorte woorde en uitdrukkings neer te skryf. Jy kan die agterkant van die vraelys ook gebruik. As jy daarna NOG spasie nodig het, is jy welkom om 'n ekstra papier hierby aan te heg, solank jy net die verwysingsnommer (wat hierbo staan) ook op daardie papier skryf. Baie dankie.

AANHANGSEL B: DIE FINALE WOORDELYLS

Slegs beskikbaar aan bona fide navorsers

E.O.F.