Ons Huis

Binne:

Wat ons behuising aanbetref, was RasGas (die firma waarvoor Hendrik werk) baie vrygewig. Ons is saam met 19 ander gesinne in 'n "compound" geplaas. Compound beteken in Suid-Afrikaanse terme: Meenthuis kompleks. Elke "villa" (huis) het 3 vreeslike ruim slaapkamers, 2 vol badkamers en 'n gaste toilet op die onderste vloer waar die sitkamer, eetkamer, TV-kamer en kombuis is. Bo by die slaapkamers is ook 'n balkon en stukkie leef area wat ons in 'n leeshoekie omskep het.

Die eerste maand (Sept 1998) was 'n rowwe maand. Ons moes ons huis toerus met alles wat nodig is om dit leefbaar te maak en 'n voertuig aanskaf. Gelukkig het die firma ook hier voorsien en ons was in 'n toestand van "shop 'till you drop". Aangesien die winkels saans tot 21:00 oop is, was dit maklik om die dorp in te vaar sodra Hendrik tuisgekom het na sy werksdag. Dit was egter nog vrek warm en ons het van die verkoelde huis na die verkoelde motor, na die verkoelde winkel na die verkoelde motor, na die verkoelde winkel.........geskarrel. Tjoef-tjaf was die huis vol meubels en kon ons normaal begin aangaan. Die hele maand van September was omtrent oorheers deur shopping.

Gedurende Oktober kon ons begin uitgaan en het ons begin plantpotte en binneshuise plante koop. Dit is verstommend om te sien watse plante hier beskikbaar is. Meeste van hulle plante word van Holland ingevoer. Dis vir my verbasend om te sien hoe goed daardie plante hier aanpas. Die plantpotte word in 'n "souq" (vlooimark) gekoop wat hulle die "date souq" (dadelmark) noem. Daar is alles van dadels (in alle moontlike vorme) tot kleipotte tot potplante en charcoal te koop. Die potte is baie goedkoop en vir my besonders mooi. Kyk bietjie hierna:

Die versameling potte hou net aan uitbrei.... ......


Buite:

Die plante in die huis het nie 'n probleem nie omdat hulle temperatuur deur die lugversorger beheer word. Ons buite tuin is 'n heel ander storie. Die enigste nadeel van die "compound" is die tuinspasie. Ons het letterlik 'n blokkie (80cm X 120cm) tuin in die plaveisel, met 'n paar plante daarin. En die beste is dat dit deur die tuinier in stand gehou word. Belaglik!! Ons het toe in November, toe dit begin koeler raak buite in potte begin tuinmaak. Dit is nogal vreemd vir iemand wat nog nooit regtig in potte tuingemaak het nie. Sommige van die natuurlike woestyn plante pas baie goed aan en groei besonder vinnig as jy dit in die grod druk en nat hou. Dit lyk tog asof die grond vrugbaar is. Mens moet dit net baie gereeld natgooi.

Die eindresultaat lyk toe as volg:

Ek het ook 'n baie ywerige helper. Dis nou nie die tuinier nie....

Soos die tyd aangaan word die tuin ook al voller en meer interessant en die uitstalling van kleipotte word aangevul met interessante klippe, die "sandrose" wat ons uitgegrawe het en stukke koraal....

Die stukkie tuin word ook versier met kleipotte in die tyd wat Ma-Barbara en Pa Klasie hier was, het hulle gehelp om die tuin nog meer op te helder. Toe het ons 'n waterbak vir die voëls gebou. Pa Klasie het al die vyl (en vuil) werk gedoen. Die boonste bak moet netjies uitgevyl word om in die "staander" te pas.

Die pot het baie mooi gelyk en goed gewerk behalwe vir die feit dat die klei baie poreus is. Die bak het in 2 dae leeg gelek. Die water moes toe plek maak vir voëltjiekos en van toe af word die voëltjie onder in die tuin en op die balkon gevoer.

 

Hier is Gitte op haar eerste skooldag by die tuintjie.

 

 

Die voëltjies het ook stuk-stuk begin aankom en kom vreet eers was daar een voëltjie....

toe 2 ... toe 3 ... toe 5...

en deesdae het ons heelwat voëltjies wat kom en gaan...

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Back to home


Last updated: 21 Jan 1999